Die gebruik van ’n hoëtegnologie-kamera genaamd Mobile-Eye, wat in Nederland ontwerp is en sportlui help om hul visie te verbeter, is maar een van ’n rits navorsingsprojekte waarmee die onlangs gestigte Sporttegnologie-eenheid van die Universiteit Stellenbosch (US) woeker.
Die eenheid, ’n onderafdeling van die Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe (SMPW) en gesetel in die Fakulteit Natuurwetenskappe, is in November 2010 op die been gebring om wetenskaplike kapasiteit te skep om navorsingsuitnemendheid in sport en fisieke aktiwiteit te ondersteun. Die eenheid doen ook navorsing oor hoe tegnologie ingespan kan word om atlete se sportprestasie te verbeter deur hul vaardighede in die laboratorium en op die veld te ontleed.

Die eenheid vorm ook deel van die niversiteitsvennootskap in Aangepaste Bewegingsaktiwiteite – ’n akademiese inisiatief van die US se HOOP Projek, ʼn kampuswye inisiatief waardeur die instansie sy akademiese uitnemendheid en voorloper- wetenskaplike navorsing inspan om oplossings vir van ons land, ons vasteland en die res van die wêreld se strafste uitdagings te vind.
Omdat sporttegnologie al meer kompleks raak, word die kennis van ingenieurs ook benodig. Juis daarom is die Sporttegnologie-eenheid ’n samewerkingsprojek tussen die SMPW en die Biomediese Ingenieursnavorsingsgroep (BERG) van die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswewse.
Prof Liz Bressan, Direkteur van die SMPW, sê die eenheid maak gebruik van die kennis van sportwetenskaplikes wat sport ken en weet hoe die liggaam werk, asook ingenieurs, wat tegnologie kan ontwikkel om sportlui “na die volgende vlak te neem”.
Onlangs was die Mobile-Eye in die nuus toe die Australiese Western Force-rugbyspeler James O’Connor die eerste persoon was om dié toestel te toets tydens ’n oefensessie in Seepunt, Kaapstad. Die Mobile-Eye bestaan uit twee kameras wat op ’n bril gemonteer is. Die kameras maak ’n digitale opname van dit waarna die persoon in die omgewing kyk én die spesifieke punt waarop die persoon se oë op ’n voorwerp binne daardie omgewing fokus.
Die Mobile-Eye is die eerste in sy soort om in Suid-Afrika vir sportnavorsing gebruik te word. Dit is ontwikkel deur die Vrije Universiteit in Amsterdam, waar mnr Gareth Paterson, ’n MatieAlumnus, tans tans sy PhD-graad doen. In samewerking met mnr John Cockcroft, ’n ingenieur verbonde aan die Sporttegnologie-eenheid, soek hy na verdere gebruike vir die Mobile-Eye, asook om ander tegnologie in te span om sportprestasie te meet en te verbeter.
Paterson verduidelik: “Die rekenaarsagteware van die Mobile-Eye kan die posisie van die oog vergelyk met punte in die omgewing om sodoende die presiese plek te bepaal waar ’n persoon se oë fokus. ’n Dinamiese opname word gemaak van hoe hierdie fokuspunte verander. Hierdie inligting oor waar ’n persoon kyk en vir hoe lank hulle kyk, word visuele soekpatrone genoem. As ’n mens weet waar die fokuspunte is en die visuele soekpatrone ken, kan jy sportlui help om die gehalte van hul besluitneming te verbeter wanneer hulle byvoorbeeld gholf speel, in krieket kolf of ’n bal vang, of ’n doel skop in sokker.”
Bressan beaam dat visie besluitneming in sport bepaal, en dat ons oë ons liggame vertel wat om te doen.
Cockcroft sê net soos wat tegnologie ’n dramatiese impak op byna alle lewensterreine het, het dit ook ’n groot uitwerking op sport en sportnavorsing. “Tegnologie van hierdie aard is deesdae draadloos en meer kompak, so ons kan metings op atlete doen sonder om hul spel te versteur. Sportanalise beweeg nou uit die laboratorium na die veld. Dit lei ’n nuwe era vir sportnavorsing en afrigting in. Dieselfde GPS- en sensortegnologie wat vir slimfone gebruik word, is nou beskikbaar en bekostigbaar vir amateur én professionele atlete.”
Wat betref nuwe gebruike vir die Mobile-Eye, is die Sporttegnologie-eenheid volgens Paterson besig met loodsstudies oor hoe druk en moegheid gholf-, rugby- en sokkerspelers se visie en besluitneming beïnvloed. In ’n ander projek word die Mobile-Eye op skeidsregters gebruik om te bepaal waar hulle tydens ’n wedstryd fokus, byvoorbeeld tydens ’n skrum, lynstaan of losgemaal.
’n Ander projek van die eenheid is Tekscan, wat Cockcroft beskryf as ’n toestel wat infrarooi lig gebruik om die druk op die atleet se voete te neem, wat inligting oor postuur en balans verskaf. Wedstrydanalise waarvoor video-analise-sagteware en GPS gebruik word, is ’n verdere projek van die eenheid.
“Hierdie projekte is die begin van iets waaroor ons nog net gedroom het. Deesdae het almal toegang tot tegnologie. Hierdie is ’n manier om kwantifiseerbare resultate vir sportlui te vind. Ons wil nie afrigters vervang nie, maar ons kan waardevolle inligting oor die spelers verskaf,” sê Cockcroft.
- Kontak prof Liz Bressan, Direkteur: Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe by tel 021808 4682, e-pos esb@sun.ac.za vir meer inligting of kliek hier.