Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Navigate Up
Sign In

Quick Launch

Hoop > Nuus > Posts > Landelike Kliniese Skool lewer eerste dokters op
April 04
Landelike Kliniese Skool lewer eerste dokters op

Die eerste mediese dokters in Suid-Afrika wat hul volle sesdejaarkliniese opleiding in landelike gebiede voltooi het, het verlede jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) afgestudeer. Dié agt Maties was ingeskakel by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe (FGW) se Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid in die Boland en Overberg.

Ukwanda word tans onder die vaandel van die Universiteit se HOOP Projek uitgebrei deur die vestiging van ’n volwaardige Landelike Kliniese Skool (LKS), in samewerking met die Wes-Kaapse Provinsiale Regering. Die spil is in Worcester geleë, en die speke in Ceres, Robertson, Caledon, Hermanus en Swellendam.hoffie en rcs grads.jpg

Die Ukwanda LKS is die eerste inisiatief van sy soort in die land. Dit is belyn met internasionale tendense wat daarop dui dat voorgraadse landelike opleiding help met die werwing van studente uit landelike gebiede en die vestiging van gegradueerdes op die platteland.

Dr Owen Wiese, wat deel was van die Worcester-groep, meen: “Studente kan nêrens beter blootstelling aan primêre gesondheidsorg kry as by Ukwanda nie”. Hy sê: “Ons opleiding stel ons in staat om as dokters ons pasiënte te behandel in die konteks waarin hulle leef. Ek voel ten volle toegerus om in enige hospitaal in die land te gaan werk.”

Dr Therese Fish, die FGW se Visedekaan vir Gemeenskapsdiens en -interaksie, wys uit dat mense in landelike gemeenskappe se gesondheid dikwels swakker is as dié van mense in stede. Daar is verskillende redes hiervoor, maar armoede is ’n belangrike faktor. Dikwels is daar gewoon nie genoeg fasiliteite, dienste en personeel vir doeltreffende gesondheidsorg op die platteland nie. Ukwanda dien as teenvoeter hiervoor: “Ons studente doen noodsaaklike landelike ervaring op, en die gesondheidsorg wat landelike gemeenskappe ontvang, sal in die lange duur verbeter.”

Dr Elsabe Smit, wat haar opleiding op Ceres voltooi het, sê haar ervaring was “ongelooflik”, en sy “is nie ’n oomblik spyt nie”. “Dit was ’n uitstekende werkomgewing en die persoonlike verhoudings wat ’n mens met jou mentor en die personeel opbou, is uniek.”

Dr Frans Krige, Projekbestuurder van die Ukwanda LKS, sê ’n tweede groep van 21 MB,ChB-studente het vir 2012 plasing aanvaar. Worcester kry 17 van hulle, en Robertson en Swellendam twee elk.

Die eerste sewe finalejaarmediese studente het reeds in Maart in die nuwe Ukwanda-koshuis op Worcester ingetrek. Die res van die LKS se geboue sal na verwagting teen Junie 2012 voltooi wees.

Onderskrif: Die eerste LKS-graduandi, agter van links: drr Mikhail Barday, Owen Wiese, Calvino Watt, Johan Gebhardt en Louwallen Volmink. Voor is drr Nicholas Fortuin en Elsabe Smit, prof Hoffie Conradie van Ukwanda en dr Montenique Jeffries. Foto:ANTON JORDAAN

Comments

There are no comments for this post.