Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Navigate Up
Sign In

Quick Launch

Hoop > Nuus > Posts > LLM in Intellektuele Goederereg aan die US vanaf 2013
April 05
LLM in Intellektuele Goederereg aan die US vanaf 2013
’n Nuwe LLM-graad in Intellektuele Goederereg gaan in 2013 aan die Universiteit Stellenbosch (US) ingestel word. Dít ná die vestiging van die Anton Mostert Leerstoel in Intellektuele Goederereg in 2011.
AJ1_7875.JPG
Dr Johann Rupert, Kanselier van die US en Uitvoerende Voorsitter en Hoofuitvoerende Beampte van Richemont, het die skenking vir die Leerstoel bewillig ná die openbare bekendstelling van die HOOP Projek in 2010.

Prof Owen Dean is aangestel as die eerste bekleër van die Leerstoel. Hy was voorheen aan die regsfirma Spoor & Fisher verbonde.

“Intellektuele goedere word toenemend as waardevol in die sakewêreld geag. Handelsmerke is miljarde werd. Wêreldwyd is universiteite besig om kapasiteit hieroor te bou. Ons wil die bewakers van Intellektuele Goederereg in Suid-Afrika wees,” sê hy. 

Die Leerstoel is vernoem na wyle Regter Anton Mostert wat in 1977 een van die jongste aanstellings in die destydse Hooggeregshof geword het. ’n Jaar later het hy ’n kommissie van ondersoek na valutahandel gelei. Hy het waarskuwings om nie sy bevindinge bekend te maak nie, verontagsaam en grootskeepse korrupsie in regeringskringe, later bekend as die Inligtingskandaal, aan die kaak gestel.

“Anton Mostert het sy waardes uitgeleef, ondanks die marginalisering en negatiewe gevolge vir sy beroep van sy onthullings,” sê Rupert. 

Dean stem saam: “Hy het nie gehuiwer om standpunt in te neem nie. Dit is hierdie eienskap van hom wat as rigsnoer vir die Leerstoel dien.” 

Dit is die eerste leerstoel aan die US wat ten volle uit ’n skenking moontlik gemaak is. Die Leerstoel is aanvanklik vir drie jaar teen R1,5 miljoen per jaar befonds, waarná befondsingsvlakke op ’n driejaarlikse siklus heroorweeg sal word.

“Ons nuwe toegewyde LLM laat die klem op die digitale omgewing val. Intellektuele Goederereg staan voortdurend voor nuwe horisonne. Dit moet die heeltyd aanpas om tred te hou met nuwe ontwikkelinge, bv die elektroniese media,” sê Dean.

Rupert Johann 2004.jpg

Twee bykomende personeellede is intussen voltyds aangestel. En opinies wat op die Leerstoel se webblad, www.sun.ac.za/iplaw gepubliseer word, maak dikwels nuus.

Steun HOOP: www.diehoopprojek.co.za/personeelsukses


ONDERSKRIFTE (in foto-volgorde):

Prof Owen Dean.  Foto: VERSKAF

Dr Johann Rupert. Foto: VERSKAF

Comments

There are no comments for this post.