Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Navigate Up
Sign In

Quick Launch

Hoop > Nuus > Posts > US maak wesenlike verskil
April 11
US maak wesenlike verskil

​Deur sy kundigheid en uitnemendheid in diens van die samelewing te stel, het die Universiteit Stellenbosch (US) die afgelope vyf jaar ʼn groot bydrae tot die ontwikkeling van die land en vasteland gelewer.

Dít blyk uit ʼn ontleding van die suksesse van die HOOP Projek, wat gestalte gekry het sedert die inhuldiging van prof Russel Botman as rektor en visekanselier op 11 April 2007.

“Ek het destyds gesê ons plaas ʼn ontwikkelingsagenda op die tafel om as teenvoeter vir wanhoop te dien. As mens kyk na wat intussen bereik is, kan ons trots wees op die verskil wat die US aan mense se lewens maak,” het Botman gesê.

Hoogtepunte sedert die openbare bekendstelling van die HOOP Projek op 21 Julie 2010 sluit in:

  • Die uitvinding van die nanotegnologiese “teesakkie”-filtertjie vir die suiwering van besoedelde drinkwater.
  • Die eerste mediese dokters gradueer aan die US se Ukwanda Landelike Kliniese Skool.
  • Matriekuitslae by 145 skole verbeter gemiddeld 11% danksy opvoedkundige uitsendings deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die US se Afdeling Telematiese Dienste.
  • 76 PhD-kandidate uit Afrika skryf via die Nagraadse Skool by die Universiteit in.
  • Meer as 3 500 Maties word betrek by aktiwiteite van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling.

Groen2.jpg

Die HOOP Projek is ook suksesvol as Afrika se grootste befondsingsveldtog in die hoër onderwys. Volgens me Annamia van den Heever, Direkteur: Ontwikkeling en Alumniverhoudings, het digby R2 miljard se skenkings, navorsingskontrakte, toewysings en borgskappe tot dusver ingestroom.

“Baie dankie aan al ons ondersteuners vir hul belegging in ʼn beter toekoms,” het Botman gesê.

Die Universiteitsraad het die rektor heraangestel vir ʼn tweede 5-jaar termyn. Hy meen die grootste uitdaging wat nou in die strewe na vernuwing voorlê, is volhoubaarheid.

“In die 21ste eeu is daar wêreldwyd dringend pogings nodig om die skade wat in die 20ste eeu aangerig is, reg te stel. Energiebesparing, watersekerheid en klimaatsverandering sal aandag moet kry van ons beste navorsers.

“Maar dit sal ook neerslag moet vind in die verdere ontwikkeling van die Universiteit. Nuwe, volhoubare geboue sal moet verrys, en ons koolstofvoetspoor sal kleiner moet word. Ook wil ons kritiese denke oor ‘groen as die nuwe maroen’ by ons studente vestig.

“Hiervoor sal ons sterk vennootskappe moet aangaan met stigtings en maatskappye en individue wat ons ingesteldheid deel. Volhoubaarheid sal die US se handelsmerk word, en ons sal sterk bande smee met diegene wat ook hierdie handelsmerk het.”

Botman meen die US kan met reg sy prestasies vier. In 2011 is die Universiteit die eerste keer in drie ranglyste van die top 500 universiteite wêreldwyd opgeneem.

“Die uitnemendheid van die 21ste eeu moet die karakter van volhoubaarheid dra. Só laat ons hoop werk vir ons land en vasteland. Só laat ons hoop werk vir toekomstige geslagte.”

Steun HOOP: www.diehoopprojek.co.za

ONDERSKRIF:

Bestemming Volhoubaarheid: Prof Russel Botman aan die stuur. (Foto: DANIE NEL)

 

Comments

There are no comments for this post.