Dit is die harde werk van personeel – akademici en steundienspersoneel – wat tot die suksesse van die Universiteit Stellenbosch (US) se HOOP Projek gelei het. “En daarvoor moet ek vir julle bedank,” het prof Russel Botman, US Rektor, Woensdag (11 April) gesê tydens ’n geleentheid waar personeel onthaal is ter viering van die HOOP Projek se suksesse.
Meer as 250 personeellede het die geleentheid in die amfiteater van die Konservatorium bygewoon wat die eerste van ’n reeks HOOP-vieringsgeleenthede is wat tot 19 April gehou word. Personeel van die Militêre Akademie, Bellvillepark-kampus en die Tygerberg-kampus het ook geleentheid via "live streaming" gevolg.
Personeel is getrakteer op sap en boereworsrolletjies, terwyl 'n musiekgroep verbonde aan die Konservatorium hulle vermaak het.
Prof Botman het reeds in 2007 idees rondom die HOOP Projek in plek begin sit, en dit is in Julie 2010 amptelik van stapel gestuur. "Dit was in slegte ekonomiese tye waarin ek mense om geld moes vra, maar ek kon uit julle verslae en navorsing aanhaal om te vertel dat die US uitnemendheid, toegewydheid en integriteit na die tafel bring. Dít is die stories wat ons tot hier gebring het. In plaas daarvan dat tjekboeke toegegaan het, het dit oopgegaan. Dit is te danke aan julle werk dat mense regoor die wêreld oor die US praat."
Hy het bekendgemaak dat die HOOP Projek sedert sy bekendstelling sy teiken om R1,75 miljard in te samel verbygesteek het. Meer as 14 individue het ook R1 miljoen uit hul eie sak gehaal om aan die US te skenk.
Van die akademiese suksesse van die HOOP Projek wat prof Botman met die gehoor gedeel het, was dat daar ’n totaal van 186 meestersgrade en 42 doktorsgrade verwerf is in slegs vier van die sowat 30 HOOP-inisiatiewe.
"Vanjaar alleen word verwag dat 31 doktorale kandidate wat deur die Afrika- Doktorale Akademie (ook ’n HOOP-inisiatief) gewerf is, hul grade sal ontvang."
Prof Botman het klem daarop gelê dat die US nou ’n instelling is wat na die toekoms kyk en ook studente oplewer wat op die toekoms gerig is. "Mense wat aan die toekoms dink, sal vertrou word. Ons kan nie net vir onsself werk nie, maar moet ook vir ’n volgende geslag werk. Die US gee leierskap oor hoe om (oor die toekoms) te dink," het hy gesê.
Een van die grootste uitdagings vir die US, aldus prof Botman, is om ons diversiteit te verbeter. Dit is een van die Universiteit se strategiese doelwitte, wat ook insluit om die US se kundigheidsbasis uit te brei en studentesukses te bevorder. “Ons moet die beste studente oplewer wat innoveerders word. Ons moet nie net werkers oplei nie, maar ook werkskeppers.”
Volhoubaarheid is ook ’n sterk strategiese doelwit. "Daarom is ek nou uitgedaag om my parkering vir 'n maand op te gee. (Lootjies word tans by Admin B verkoop aan studente en personeel wat graag sy parkeerplek wil wen.) Ek sal dan met die pendelbussie of fiets ry en stap ter ondersteuning van volhoubaarheid. Dít is die wysheid van die volgende generasie," het prof Botman gesê.
Personeel en studente van die FGW het suksesse van die HOOP-projek tydens ‘n gesamentlike etensuur byeenkoms in die Tygerberg Studentesentrum gevier.
Die geleentheid het afgeskop met studente en personeel wat hulle handafdrukke op ‘n banier met die HOOP-embleem gemaak het as teken van hulle ondersteuning van die spesiale inisiatief van Prof Russel Botman.
Volgens me Jo-Ann Bate, Tygerberg Studenteraadlid vir gemeenskapsinteraksie, is bewusmaking bevorder deurdat studente aan die viering kon deelneem. "Studente is die geleentheid gebied om op ‘n ander en meer interaktiewe vlak deel van die HOOP-projek te word," het sy gesê.
- Onderskrif: Personeel van die Fakulteit AgriWetenskappe was in groen getooi vir die funksie.