Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Navigate Up
Sign In

Quick Launch

Hoop > Nuus > Posts > Ingenieurswese vier suksesse van sy HOOP Projek-inisiatiewe
May 03
Ingenieurswese vier suksesse van sy HOOP Projek-inisiatiewe

​“Dis ongelooflik hoe dinge ontplooi het en ons suksesse is fenomenaal. Ek wil elkeen gelukwens wat bygedra het om die HOOP Projek 'n sukses te maak.”

Dit was die boodskap van prof Arnold Schoonwinkel, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, aan fakulteitspersoneel by ʼn terugvoersessie oor die impak van die HOOP Projek. Die geleentheid het deel gevorm van HOOP Week – ʼn viering van die suksesse van die HOOP Projek. Die HOOP Projek is ʼn kampuswye inisiatief waardeur die Universiteit sy onderrig, navorsing en gemeenskapsinteraksie inspan om volhoubare oplossings te vind vir sommige van Suid-Afrika en Afrika se strafste uitdagings.

Ingenieurswese se navorsingsinisiatiewe wat betref die HOOP Projek is op die terreine van Energie en die Omgewing, Kommunikasie en Inligtingstelsels, en Voedselsekerheid, en behels bykans veertig projekte onder dié temas.

Die sukses van die HOOP Projek kan gesien word in die lewering van nagraadse studente wat onder die HOOP Projek-banier studeer. Tussen 2009 en 2011 is 191 M-inskrywings belowe, terwyl daar in werklikheid 287 inskrywings was. Op PhD-vlak is 59 inskrywings beoog, terwyl 90 ingeskryf het. Meestersgrade wat verwerf is, was 164 in vergelyking met die 127 wat beloof is. Vyf-en-twintig doktorsgrade is toegeken teenoor die 17 wat in die vooruitsig gestel is. Ook publikasie-uitsette wat uit die HOOP Projek-navorsing gespruit het, is indrukwekkend. Dit sluit 146 joernaalartikels en 347 bydraes by konferensies in.

Die US Raad het R52,66 miljoen saadgeld aan Ingenieurswese vir die HOOP inisiatief toegeken. Iets waarop die Fakulteit besonder trots is, is dat dit die industrie kon aanspoor om ʼn bykomende R77,06 miljoen tot hierdie inisiatief by te dra.

Alles in aggenome is die opbrengs op die US Raad se belegging in Ingenieurswese se navorsingsinisiatiewe ongeveer 350%.

Vier navorsers het hul projekte by die geleentheid met personeel gedeel. Die projekte het gehandel oor onder andere telemedisyne; die gebruik van onbemande vliegtuie in die monitering van hulpbronne, rampbestuur en sekuriteit; volhoubare boumateriale; en die gebruik van plantmateriale om biobrandstof te vervaardig. Uit al die aanbiedings was dit duidelik dat die Fakulteit se navorsing 'n groot impak op mense, die land en die wêreld kan hê.

Prof Schoonwinkel het afgesluit: “Julle kan sien ons doen goeie navorsing gekoppel aan regte probleme wat kennis produseer het. Navorsers en ondersteuningspersoneel: julle skep Hoop! Ek is uiters trots op Ingenieurswese se poging om HOOP te bring.” 

Comments

There are no comments for this post.