Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Navigate Up
Sign In

Quick Launch

Hoop > Nuus > Posts > Sentrum se FAST lasertegnologie help naelloopatlete
May 03
Sentrum se FAST lasertegnologie help naelloopatlete

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe het ’n nuwe projek in vennootskap met TimeTronics, die wêreld se voorste kommersiële verskaffer van atletiektydtoerusting, van stapel gestuur.

Die projek is bekend as die Suider-Afrikaanse naelloopprojek, en beoog om naellopers en hekkiesatlete hul wegspring-, versnellings- en hardlooptegnieke oor afstande van tot 400 m te help verbeter. Met behulp van ’n unieke kombinasie van kragsensitiewe wegspringblokke, lasertredhoutoerusting en hoëspoedkameras word ’n presiese prestasieprofiel van elke atleet met spesiale sagteware bereken. Onmiddellike visuele terugvoer sowel as uitvoerige skriftelike verslae word voorsien sodat die afrigter kan bepaal watter soort veranderinge in tegniek en/of afrigting nodig is om die atleet se baanprestasie te verbeter.MerlinDiamond_Gareth.jpg

Hierdie voorpunttegnologie is aanvanklik deur biomeganici en afrigters by die Katolieke Universiteit van Leuven in België ontwerp, waarna TimeTronics dit verder ontwikkel het in wat vandag as die FAST- (“Force, Acceleration, Speed, Time”-) stelsel bekend is. Slegs drie ander naelloopafrigtingsentra ter wêreld (in China, België en Nederland) beskik oor hierdie ultramoderne tegnologie, en onlangse gebruikers van die stelsel sluit in naellopers soos Usain Bolt (Jamaika) en Dwain Chambers (Groot-Brittanje). Die US se Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe is die enigste fasiliteit in Afrika wat FAST-stelselontledings kan onderneem.

Volgens Gareth Paterson, ’n sporttegnoloog verbonde aan die projek by die Sentrum, is die FAST-stelsel ontwikkel "om die gaping te oorbrug tussen afrigters en daardie wetenskaplikes wat data van gehalte en wetenskaplike prestasieontledings kan lewer. Die inligting wat aan atlete en afrigters verstrek word, is onmiddellik en hou regstreeks verband met die verbetering van snelheid en versnelling gedurende naellope".

Die stelsel bestaan uit twee afdelings. Die eerste is die hipertegnologiese wegspringblokke wat 'n aantal prestasiefaktore meet wat naellopers se wegspringaksie kan beïnvloed, soos die algehele tydsduur van die wegspringaksie, reaksietyd op die linker- en regterbeenwegspring, voorafspanning op die linker- en regterblok in die 'gereed'-posisie, die maksimum krag wat die bene op die linker- en regterblok uitoefen, en snelheid sowel as versnelling uit die blokke.

Die tweede afdeling behels 'n ultramoderne laser, baie soos 'n spoedradarpistool, wat agter die atleet opgestel word.

"Die laser meet 'n verstommende aantal parameters gedurende ’n wedloop," sê mnr Paterson.

Snelheid en versnelling word bereken op grond van die posisie-tyd-data van 'n laserstraal wat op die atleet se lae rug gestel is en 400 laserposisioneringsmetings per sekonde bied.

"Dit bied ons akkurate lesings tot op die laaste millimeter vir verskeie parameters," sê mnr Paterson. Dít sluit in die presiese snelheid in 5 m-intervalle vanaf die eerste 5 m (meter per sekonde) tot aan die einde van die wedloop; versnelling tussen elke 5 m-interval; akkurate tydsduur van elke 5 m-interval; die hoogste snelheid gedurende die wedloop; die afstand waarop die hoogste snelheid bereik word, en natuurlik die atleet se treetempo en -lengte oor die hele wedloop.

Die stelsel is volledig verplaasbaar en padlangse besoeke aan Namibië en Botswana word vir later vanjaar beplan.

Die Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe onderneem die meeste van sy FAST-beoordeling- en -ontledingsessies in vennootskap met Maties Atletiek op die baan by Coetzenburg-stadion. Skoolkinders, Olimpiese en Paralimpiese aspirant-atlete en besoekende internasionale naellopers van Groot-Brittanje, Duitsland en België is onder diegene wat in die afgelope paar maande daar getoets is.

Die FAST-stelsel is ook die afgelope tyd op ’n paar opwindende maniere aangewend as deel van die US se HOOP Projek en die verbintenis om die groter gemeenskap uit tegnologie te laat voordeel trek.

Nabeela Parker, ’n belowende jong plaaslike naelloper, en haar afrigter het byvoorbeeld met die FAST-stelsel begin oefen. Binne vier weke het sy haar gewone 100 m-tyd van meer as 12 sekondes tot 11,78 sekondes verbeter – die vinnigste wat ’n Suid-Afrikaanse vrou dié afstand al vanjaar afgelê het. Volgens Mohamed Ally, naelloopafrigter by Maties Atletiek en tegniese raadgewer vir die projek, was daar “’n paar kwessies met haar wegspring sowel as haar wedloopbeplanning. Binne die bestek van ’n enkele FAST-sessie het ons egter ’n ongelooflike hoeveelheid inligting ingesamel. Met die wegspring- en lasergebaseerde metings van die FAST-ontleding kon ons swakpunte in sowel haar wegspringbeweging as die wedloop self uitwys, terwyl ons met die hoëspoedkameras op haar tegniek kon konsentreer”.

Die FAST-beoordelingstelsel hou ook voordele in vir atlete wat van beserings herstel en weer op dreef probeer kom. Die Namibiër Merlin Diamond, aspirant- Olimpiese 100 m-atleet, het die Sentrum vir ’n week lange sessie van FAST-beoordeling en -afrigting besoek. Mnr Sean Surmon, krag- en kondisioneringspesialis vir die projek, het met Ally saamgewerk om te bepaal hoe hulle Merlin kan help. Hy sê: “Met die FAST-ontleding kan ons aan die begin reeds kwessies uitwys wat rehabilitasie verg, soos kragverskille in bene, verskille in reaksietyd of probleme met kragproduksie. Die FAST-stelsel bied ons die geleentheid om bewysgegronde krag- en kondisioneringsprogramme te ontwerp en te lewer wat spesifiek vir elke atleet pasgemaak is.”

“Afrigters behoort die FAST-stelsel as ’n instrument te beskou,” sê Ally. “Die wonder van hierdie tegnologie,” sê hy, “is dat FAST-ontledingsblokke en -lasertegnologie ons presies sê wat met ’n naelloper se prestasie aangaan, terwyl die hoëspoedkameras ons insig bied in die moontlike oorsake van enige probleme. Al hierdie inligting word dan saam met die afrigter deurgewerk, wat dan op grond van sy/haar persoonlike kennis van die atleet kan besluit watter soort aanpassings raadsaam is.”

“Ons probeer hierdie soort sporttegnologie aan soveel moontlik naellopers en hekkiesatlete beskikbaar stel,” sê Paterson. Die Suider-Afrikaanse naelloopprojek is daartoe verbind om atlete van oor die hele streek te help toerus sodat hulle realistiese medaljeverwagtinge van die Olimpiese en Paralimpiese Spele van 2016 en 2020 kan koester. Ons moedig graag afrigters, ouers en atlete aan wat in ’n FAST-ontleding sou belang stel, om met ons in aanraking te kom.”​

Onderskrif: Merlin Diamond (Namibië) en Mohamed Ally (Maties Atletiek) kyk na beeldmateriaal van Merlin se naellooptegniek wat die hoëspoed- digitale kameras opgeneem het. Foto: Liz Bressan​

Comments

There are no comments for this post.