“'n Mens bou nie geboue as jy nie hoop het nie."
Dít was die woorde van mnr Chris Munnik, Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur, tydens die opening van Fasiliteitsbestuur se nuwe drieverdieping, groen gebou in Hammandshandweg in Stellenbosch Woensdag (16 Mei).

Hierdie gebou is ’n simbool van die 21ste eeuse leer, leef en werksplekke waarheen die Universiteit Stellenbosch op pad is.
Die gebou bring die onderafdelings van die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur naamlik Eiendomsdienste, Risiko en Beskermingsdienste, Beplanning- en Ontwikkeling en Fasiliteitsdienste byeen.
Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, het die verskillende innoverende, groen en slim kenmerke wat bydra tot die gebou se volhoubaarheid, verduidelik. ʼn Intensiewe skadu-analise is gedoen ten einde die gebou optimaal te oriënteer om hitte-las tot ʼn minimum te beperk, maar tog genoeg lig in die gebou toe laat. Die groot dakoorhange en die strategiese gebruik van houtpanele aan die buitekant help ook om die gebou koel in die somer en warm in die winter te maak. Houtpanele word ook aan die buitekant van die gebou gebruik om tot soveel as 50% hitte-las uit te skakel. Nog ʼn baie innoverende aspek van die gebou is die lugreëling. Koue water word uit die Eersterivier onttrek en gebruik in die lugreëlingstelsel waarna dit weer terug gepomp word na die aangrensende Lentelus-sportterrein as besproeiingswater.
“Wat ligte aanbetref, word die gebruik van elektriese ligte tot die minimum beperk en word natuurlike lig sover moontlik gebruik. Wanneer ligte wel aangeskakel word, maak die gebou gebruik van nog ’n slim tegniek: Ligsensors meet die hoeveelheid lig wat die gebou binnekom en demp die beligting outomaties om daarby aan te pas. En daar is ook bewegingsensors wat ligte in toe vertrekke afskakel drie minute nadat jy die vertrek verlaat het,” sê prof Botman.
Hy het verder verduidelik dat daar in ooreenstemming met die Universiteit se Kampusmeesterplan – wat al die US se fasiliteite oor die volgende dekades rig – besluit is om die gebou en ander diensafdelings na die periferie van die kampus te skuif. “Sodoende stel ons plek beskikbaar vir die akademiese en navorsingsafdelings wat eerder in die kern van die kampus moet wees. Die Ou Conserve waar een van die Fasiliteitsbestuur-afdelings gehuisves was, word nou beskikbaar gestel vir die Buro vir Ekonomiese Ondersoek wat van Technopark af na die kampus trek. Dit bewerkstellig ʼn aansienlike besparing in huurkoste.”
Die gebou huisves ook die Universiteit se wêreldklas Fasiliteite Operasionele Sentrum wat onder meer die straatkameras en dié by geboue monitor. Brand-, rook- en diefalarms en die Universiteit se noodgenerators kan ook van hier gemonitor word terwyl die sentrale energiebestuur en lugreëlingstelsels vanaf die sentrum bestuur kan word. Fasiliteitsbestuur se 24 uur hulptoonbank vir alle fasiliteite dienste word ook van hier bedryf.
Mnr Munnik sê die 1 412m2 gebou wend ruimte baie meer doeltreffend aan. Tans gebruik hulle slegs 7m2 per persoon vir kantoorspase teenoor 11m2 in die verlede. “En tog voel dit groter en ruimer. Ons werk ook beter, want ons hoef nie ’n vergadering te belê elke keer as ons iets met ’n kollega in een van die ander geboue wil bespreek nie.
“Ons is baie trots op hierdie eerstewêreldse werksplek en dit is waarheen ons op pad is met die al die geboue op kampus.”
Botman het bygevoeg: “Hierdie gebou is ’n toonbeeld van die Universiteit se toekomsplanne vir kantoorontwerp. Die die meeste van ons bestaande geboue dateer uit ’n era waar enkele mense ’n paar mense in ’n groot kantoor gewerk het. Hierdie gebou is die teenoorgestelde – dit behels meestal oopplan-werkruimtes wat baie beter benutting van spasie beteken. Maar dit verander ook die manier waarop mense werk en met mekaar omgaan en soos alle nuwe dinge, gaan dit tyd in vat om daaraan gewoond te raak. Dit is egter die rigting waarin die wêreld beweeg en Maties kan nie agterbly nie.”
“Dit gaan egter oor meer as net bakstene en sement, dit gaan eintlik hier oor vlees en bloed - die welstand en sukses van die mense van nie net hierdie universiteit nie, maar uiteindelik ook van hierdie dorp, provinsie, land én kontinent. Deur die HOOP Projek is die Universiteit goed geposisioneer om die wêreld te verander, maar om ons in staat te stel om hierdie ambisieuse taak aan te pak, het ons die regte fasiliteite nodig. Die nuwe Fasilteitsbestuurgebou is ʼn sprekende voorbeeld van hoe ons môre wil leer, leef en werk.”
Die gebou is deur TV3-argitekte ontwerp en het nagenoeg R24 miljoen gekos. Bouwerk het in Mei 2011 ʼn aanvang geneem en dit is aan die einde van Februarie vanjaar voltooi.
Onderskrif: Mr Chris Munnik, Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur, en prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, onthul die plaket tydens die opening van die nuwe Fasiliteitsbestuurgebou in Hammandshandweg in Stellenbosch. Foto:Justin Alberts