Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Navigate Up
Sign In

Quick Launch

Hoop > Nuus > Posts > USB bied wêreld se grootste konflikbestuurskonferensie aan
July 02
USB bied wêreld se grootste konflikbestuurskonferensie aan

​Me Leymah Gbowee van Liberië, mede-ontvanger van die Nobelvredesprys vir 2011, sal die hoofspreker wees by die 25ste Konferensie van die Internasionale Vereniging vir Konflikbestuur (IACM). Die Afrikasentrum vir Geskilbeslegting in die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) sal dié konferensie van 11 tot 14 Julie by Spier aanbied. Dit is die eerste keer wat dié toonaangewende geleentheid in Afrika plaasvind. Me Gbowee was een van die leiers in die Liberiese vredesproses. 

Regter Arthur Chaskalson, voormalige hoofregter van Suid-Afrika en die eerste regterpresident van Suid-Afrika se nuwe Konstitusionele Hof, sal konferensiegangers by die amptelike openingsgeleentheid op 12 Julie toespreek.

"Kundiges is dit eens dat Suid-Afrika ander lande baie kan leer wat die bou van konflikbestuurs-, bedingings- en bemiddelingsvaardighede betref, maar dat ander wêrelddele ons ook nog baie kan leer,” sê prof Barney Jordaan, hoof van die Afrikasentrum vir Geskilbeslegting en voorsitter van die reëlingskomitee. “Juis daarom moet die land voortdurend inligting met ander uitruil en met internasionale kundiges saamwerk om die bestaande uitdagings in ons samelewing die hoof te bied."

Die konferensie sal akademici sowel as praktisyns op die gebied van konflikbestuur, vredestigting, bedinging en bemiddeling die geleentheid bied om in aanraking te kom met relevante internasionale navorsers en gesaghebbendes, sê Jordaan. "Die Universiteit is baie trots om die grootste konflikbestuurskonferensie ter wêreld te kan aanbied." 

Volgens hom sal konferensiegangers die mees innoverende en sinvolle maniere verken om die verskillende vorme van konflik te hanteer wat gemeenskappe, organisasies en lande alte dikwels kniehalter. Om dít te bereik, sal die konferensie – in ooreenstemming met die missie van die IACM – teorie, navorsing en ervaring ontwikkel en versprei ten einde konflikbestuur in gesins-, organisatoriese, samelewings- en internasionale omgewings te verstaan en te verbeter.

Die tema van die konferensie is "Van vrees tot 'n gemeenskaplike toekoms: 25 jaar van konflikbestuur". Benewens ’n spesiale, toegewyde afdeling oor bemiddeling, is 132 referate en 50 plakkate aanvaar. Dit dek die volle spektrum van konflikverwante onderwerpe. 

Die program is in ses breë temas ingedeel, naamlik konflikbeslegting; bedinging; diversiteit en kultuur; mag en invloed; bemiddeling, en etiek, dilemmas en emosies. Dit sluit in onderwerpe soos leierskap en diversiteit; wêreldwye ontwikkelings in bemiddeling; treitering en konflik; interpersoonlike bedinging; konflik tussen burgers en regerings; bemiddeling in familiesaakgeskille, en vredestigting. (Die volledige program is beskikbaar by www.iacm-conflict.org.)

Op sy beurt bevorder die Afrikasentrum vir Geskilbeslegting aan die Universiteit Stellenbosch (US) die vreedsame, doeltreffende en kostedoeltreffende beslegting van konflik en geskille op alle vlakke, hoofsaaklik deur die doeltreffende gebruik van konsensusgegronde geskilbeslegtingsprosedures soos bedinging en bemiddeling. Die Sentrum maak deel uit van die Universiteit se HOOP Projek, ’n kampuswye inisiatief waardeur die US sy kundigheid in onderrig, navorsing en gemeenskapsinteraksie gebruik om volhoubare oplossings vir van Suid-Afrika en Afrika se knellendste uitdagings te bedink.

  • Vir meer inligting oor die konferensie, klik hier of skakel met Sunelle Hanekom by sunelle.hanekom@usb.ac.za of 021 918 4381. Voornemende konferensiegangers kan op die IACM se webtuiste registreer. ʼn Spesiale dagpas is beskikbaar vir deelnemers wat nie die hele konferensie kan bywoon nie. Nader asseblief vir Shelly Whitmer by sjmoore@umich.edu vir besonderhede.
  • Vir ʼn spesiale uitnodiging van die beskermheer van die Afrikasentrum vir Geskilbeslegting, emeritusaartsbiskop Desmond Tutu, klik hier


Comments

There are no comments for this post.