Prof H Russel Botman
Prof Botman is in 2007 as Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch aangestel, en is sedert 2000 aan die Universiteit verbonde. Hy is ’n wêreldbekende teoloog, leier en ekumeniese rolspeler. In 1989 ontvang hy ’n spesiale toekenning van die Stadsraad van Milwaukee (Minn) as ’n voorstander van geregtigheid en menslikheid, en in 2001 word hy genomineer vir die leierskapstoekenning van die Desmond Tutu Opvoedkundige Trust.
Mnr Sidego is ’n voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Denemarke en is ’n joernalis van beroep. Hy is ook die voormalige senior algemene bestuurder (Korporatiewe Sake) van Media24. Hy is ’n Direkteur van die Exceed-groep, ’n fidusiêre en finansiële dienste-maatskappy, en ook Direkteur van Kommunikasie van Buildman, ’n boumaatskappy. Mnr Sidego is ’n Trustee van die Stellenbosch Trust.
Mnr Mouton is die Uitvoerende Voorsitter van die PSG-groep. Hy is die voorsitter en ’n direkteur van verskeie maatskappye in die PSG-groep, en dien ook op die raad van Zeder Investments, Kaap Agri, Steinhoff International en die KWV. Hy is die stigter en voormalige voorsitter van Capitec Bank. Mnr Mouton is ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch en ’n Trustee van die Stellenbosch Trust. Hy is ook ’n voormalige lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch.
Mnr Steyn is die voormalige uitvoerende direkteur van die Rembrandt-groep en voormalige direkteur van Remgro. Hy is die President van die Stellenbosch Gholfklub. Hy is ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch en ’n Trustee van die Stellenbosch Trust. Hy is ook ’n voormalige lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch.
Mnr Smith is Voorsitter van sowel RGS Reinsurance Company of South Africa as Santam Bpk. Hy is ’n direkteur van verskeie maatskappye en is in Junie 2009 as Nie-Uitvoerende Direkteur van Sanlam Bpk aangestel. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer en is ’n Trustee van die Stellenbosch Trust, en ook ’n lid van die Adviesraad van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB). Hy is die Voorsitter van die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie (STIAS) en ’n voormalige voorsitter en lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch.
Dr Luhabe is die Kanselier van die Universiteit van Johannesburg en stigter van die Wendy Luhabe Foundation. Sy is ’n bekwame maatskaplike entrepreneur, en medestigter van Women Investment Portfolio Holdings (Wiphold). Sy was ’n direkteur van verskeie maatskappye, waaronder die Vodacom-groep en Telkom SA. Sy is met eredoktorsgrade in handel deur die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Fort Hare vereer, en is ook ’n Trustee van die Stellenbosch Trust.
Mev Landman is ’n gerespekteerde en bekroonde joernalis met meer as 25 jaar ervaring as koerantjoernalis, op die radio, vir tydskrifte en as TV-nuusleser. Sy is die voormalige medeprogramleier van Carte Blanche op M-Net. Sy is sedert 2005 ’n Nie-Uitvoerende Direkteur van Media24. Mev Landman het aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer. Who’s Who Profile:
http://www.whoswhosa.co.za/user/4957
Dr Hertzog is die Voorsitter van die Medi-Clinic-groep en is ’n Direkteur van Distell, Remgro, Total (SA) en die Trans Hex-groep. Hy het die Frans du Toit-medalje vir Leierskap in Bestuur in sy hoedanigheid as Voorsitter van Medi-Clinic ontvang. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer en is ’n voormalige voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch.
Dr Bekker is die Hoof- Uitvoerende Beampte van Naspers Bpk, Afrika se grootste mediamaatskappy. Hy dien op die plaaslike organiseringskomitee vir die 2010 Fifa Wêreldsokkerbeker. Hy is in Junie 2007 verkies as lid van die World Entrepreneur Hall of Fame. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer, en het ’n eredoktorsgraad van dié universiteit, en is ook ’n lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch.
Dr Cluver is ’n neurochirurg en appel- en wynboer. Sy familie besit De Rust Landgoed, die tuiste van Paul Cluver-wyne. In Februarie 2010 ontvang hy die Toekenning vir Lewenslange Prestasie van die Europese publikasie The Drinks Business by die Groen Toekennings. Hy is die voorsitter van verskeie kommersiële maatskappye in die landbousektor. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer, en is die Voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch. In 2000 ontvang hy ’n eredoktorsgraad van dié universiteit.
Mnr Markus Jooste
Mnr Jooste is die Hoof- Uitvoerende Beampte van Steinhoff International en is ’n direkteur van verskeie verwante maatskappye. Hy is ook ’n Direkteur van die PSG-groep en Phumelela Gaming. Hy is ’n perdewedren-entoesias en is ’n lid van die Highveld Racing Association en ’n Nie-Uitvoerende Direkteur van The Racing Association. Hy is ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch.
Mnr du Toit is die Hoof-Uitvoerende Beampte van Rootstock Investment Management. Hy dien op die rade van verskeie maatskappye, met inbegrip van Zambia Copper Investment Limited en die PSG-groep. Hy is een van die stigterslede en voormalige hoof- uitvoerende beampte van Coronation Fund Managers. Mnr du Toit is ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch.
Mev Erna Meaker
Mev Meaker het onderskeidelik in 1975 en 1976 die grade BA en BA Hons van die Universiteit Stellenbosch ontvang. As student het sy onderskeidelik in 1974 en 1973 in Lydia en Heemstede gewoon. Mev Meaker is op 7 November 1954 gebore, en het aan die Hoër Meisieskool Bloemhof gematrikuleer en sy is 'n Trustee van die Stellenbosch Trust. Sy is met mnr Paul Meaker getroud, ʼn US-alumnus en ʼn direkteur van die prokureursfirma Cluver Markotter. Die egpaar se drie kinders – Frank, Lorraine en Paula – is ook US-alumni.