Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Navigate Up
Sign In

Quick Launch

Home > News > Posts > HOOP Projek gee stukrag aan bouprojekte
April 05
HOOP Projek gee stukrag aan bouprojekte

Finansiering uit die Universiteit Stellenbosch (US) se HOOP Projek het oor die afgelope jaar verseker dat verskeie fasiliteite vir HOOP-inisiatiewe óf klaar gebou is, in aanbou is óf opgeknap word. Dié fasiliteite is die MEDIAFRIKA-gebou, die Afrikasentrum vir MIV/Vigsbestuur, die Ukwanda Landelike Kliniese Skool en die Regshulpkliniek.

Ukwanda
In Worcester is bouers sedert 2010 op die hoek van Durbanstraat en die Robertson-pad aan’t werskaf. Die Ukwanda Landelike Kliniese Skool sal in ʼn groot behoefte voorsien om ʼn nuwe generasie gesondheidspersoneel op te lei om in die groot vraag na mediese sorg op die platteland te voorsien.

Twee geboue – een vir studentehuisvesting (vir 40 studente) en die ander ’n akademiese fasiliteit met ’n ouditorium vir 120 mense, kantore en seminaar-, rekenaar- en studielokale – word tans opgerig. Die US se Fakulteit Gesondheidswetenskappe het in vennootskap met die Wes-Kaapse Provinsiale Regering dié kliniese skool ’n werklikheid gemaak. Die projekwaarde beloop sowat R46 miljoen (besoek www.sun.ac.za/ukwanda vir meer inligting).

Regshulpkliniek
Met die opening van sy nuwe vleuel in Augustus 2011 is die US se Regshulpkliniek nou oorgehaal om ʼn selfs omvattender en beter diens aan gemeenskappe in en om Stellenbosch en op die platteland te bied. Vier nuwe kantore, ’n seminaarkamer en ’n nuwe sentrum met 14 rekenaars stel die Regshulpkliniek in staat om dubbel soveel studente as in die verlede in te neem om praktiese vaardighede in ’n regspraktyk op te doen.

Die Regshulpkliniek, in Banhoekweg in Stellenbosch, bied gratis regsdienste, en werk hoofsaaklik met plaasafsettings, arbeidsgeskille, gesinsgeweld, egskeidings, skuldverligting en motorbotsings. Jaarliks word sowat 4 000 kliënte bygestaan.

“Die voortbestaan van die Regshulpkliniek is noodsaaklik, sodat ons deur funksionele, professionele gemeenskapsdiens hoop aan die minderbevoorregtes in ons omgewing kan bied,” sê mnr Kruger van der Walt, Direkteur van die Regshulpkliniek.

Afrikasentrum vir MIV/Vigsbestuur
Die nuwe tuiste van die Afrikasentrum vir MIV/Vigsbestuur maak goeie vordering. Die Sentrum verhuis binnekort na Joubertstraat. Met sy nuwe fasiliteite sal die Sentrum sy werksaamhede selfs beter kan verrig. Die nuwe, moderne dubbelverdiepinggebou spog met kantore, ruim kombuisgeriewe, ’n raadsaal en ʼn repetisielokaal vir akteurs wat in die Sentrum se gewilde opvoedkundige teaterstukke speel. Die koste beloop R16 miljoen.

Deur sy akademiese opleidingsprogramme in MIV/Vigsbestuur steun die Sentrum die HOOP Projek se visie van die bevordering van menswaardigheid en gesondheid. ’n Nagraadse diploma en MPhil-program word aangebied wat studente toerus om beheer oor die pandemie te neem.

Oor die afgelope dekade het die Sentrum al meer as 1 500 nagraadse diplomas aan studente van 45 lande toegeken.

Gesondheidswetenskappe
Die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur het vanjaar ook twee ou lesingsale by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op Tygerbergkampus in een moderne, groot lesingsaal met die jongste onderrigtegnologie omskep. Dit is deel van ʼn groter projek om geboue op dié kampus op te knap. Die kafeteria vir studente het ook ’n nuwe baadjie gekry met nuwe meubels, kleurvolle mure en ontspanningsareas.

MEDIAFRIKA
Reg agter die historiese huis in Crozierstraat waar die Departement Joernalistiek tuis is, staan nou ’n ultramoderne sentrum genaamd MEDIAFRIKA. Dié dubbelverdiepinggebou, wat in 2011 ingewy is, beskik oor ’n veeldoelige lesinglokaal, ’n rekenaarvertrek, asook klank- en beeldateljees. Prof Lizette Rabe, inisieerder van MEDIAFRIKA en vorige Departementshoof, sê die nuwe gebou help met die opleiding van joernaliste wat die demokrasie deur middel van etiese en ondersoekende verslaggewing sal verdiep.

Comments

There are no comments for this post.